die lugruim berge

stefan mostert

11 may 2025

800 woorde

8 minute

Van Saguaro tot sneeu in Arizona se Sky Island berge


Ons dink altyd aan vakansie as iets wat vêr van ons af moet gebeur. So wil ons altyd oor die see gaan na ’n plek met ander bome en tale en dinge. Al daardie lekker verandering en transformasie. Dit trek ons aandag weer na die wêreld om ons, anders word alles net te veel dieselfde. Maar die wêreld is groot, so wanneer ’n baie groot deel daarvan sommer net in een plek beleef kan word, is daardie ’n baie spesiale plek.

Vanaf my huis in Tucson, Arizona, in die hartjie van die Sonoran-woestyn, is daar juis só ’n plek. Hier word dit ’n Sky Island genoem, en dié spesifieke een is die Santa Catalina-bergreeks. Van hier kan ek amper die hele Noord-Amerikaanse wêreld in een enkele rit ervaar.

Sky Island” beskryf hierdie berge baie mooi. Hulle is groot eilande wat plek-plek gestrooi lê oor die woestynvloer. Elke eiland is ’n geïsoleerde habitat met ‘n mikroklimaat, geskei van die volgende een deur kilometers van kaktusse en ’n bitterwarm son. Só kry mens vele spesies wat uniek voorkom in elke Sky Island, omdat die volgende gunstige habitat vir so ’n spesifieke spesie oorkant ’n woestynsee lê.

Dus, om deur die wêreld van die Noord-Amerikaanse landskap te beweeg, kan ek óf my breedtegraad verander en fisies soontoe gaan, óf ek kan net my hoogte bo seevlak verander, en sommer net hier in Arizona bly! Dit word die Hoogte-Breedtegraad-Ekwivalensie of die Biogeografiese Vervalsyfer genoem. Dit sê dat vir elke 1,000 voet wat jy opstyg, jy dieselfde transformasie in die landskap sal sien, as wat 300 myl noordwaarts jou bied. In Afrikaans is dit sowat 300 meter op vir elke 500 km noord.

Hierdie bergwêreld besoek ek gereeld – veral met my fiets. Op ’n Saterdagoggend vroeg sal ek die stad verlaat, stadig deur Tucson se uitgebreide fietsbaannetwerk. Reg om die stad is ook The Loop, ’n 200 kilometer fietspad wat die hele stad omring. Só begin ek my fietsuitstappie met ’n wye swaai om die suidooste na Mount Lemmon se boonste punt, amper 3 000 meter in die lug. Saam met my het ek vars bene, ’n paar dinge om aan te knibbel en natuurlik baie water.

Die pad wat my tot bo neem, is die Catalina Highway – alles wat Amerika lekker maak in een: ’n Wye, gladde teerpad wat strek vanaf die woestynvloer tot bo in die woud. Sewentig kilometer wat jou 2,000 meter opstuur – of volgens dié ekwivalensie – soortgelyk aan ’n rit vanaf Tucson tot in Banff, Kanada. Gesaai aan weerskante van die pad lê sewe kampterreine, verskeie piekniekplekke en vele staproetes. The Great American Outdoors, soos hulle sê.

Die kampterreine lê verspreid oor elkeen van die onderskeie habitatte wat die verandering in hoogte bied. Deur die raserige stad bereik jy uiteindelik die Sonoran-woestyn. Van daar gaan jy op na die woestyn-grasvelde, dan die eikeboombosse, dan die Ponderosa-dennebos, en heel bo – net soos in Kanada – die immergroen naaldboomwoud, kompleet met sneeu in die winter en ’n paar bere wat plek-plek wegkruip.

Om hierdie natuurlike transformasie van die landskap eerstehands waar te neem, is die beste manier juis per fiets. Só kan jy die laaste Saguaro-kaktus persoonlik groet en elke habitat mooi beleef en waardeer. Ek kan ook stop waar ek wil om uitsigte in te neem, terwyl my polse bietjie rus.

Om die Catalina Highway mooi af te rond, is daar ’n houthuisie heel bo, waar jy ’n yslike groot, varsgebakte koekie én ’n warm koppie koffie gelyk voor jou neergesit kry. Met jou fiets voel dit of jy dit verdien. Buite suis die wind deur die naaldbome, en alles saam is ’n wêreld verwyderd van wat daar onder in die woestyn gebeur.

Maar die beste rede om só ’n uitstappie met jou fiets aan te pak, is natuurlik die lekker lang afdraande wat jy aan die einde van die dag kry – al sewentig kilometer daarvan! Dan kan jy weer die natuur se transformasie ervaar – hierdie keer net andersom en ’n bietjie vinniger: Die groen bome wat verander na die bruin bome, en dan die bossies, en die grasvelde, en later die eerste Saguaro-kaktus wat vir jou waai met sy arms in die lug. Dan is dit weer die stad, en ’n verdere twee ure van agterstraatjies tot by my huis.

Arizona se Lugruim Berge bied gunstige toestande om hierdie natuurlike verskynsel te ervaar, maar dit is natuurlik nie die enigste plek nie. Dit kan reg oor die wêreld waargeneem word – ook in die Suidelike Halfrond, waar 300 meter op dieselfde transformasie bied as 500 km se reis na die suide. Só kan ons die klimaat van die Drakensberge, in sekere opsigte, vergelyk met die klimaat van Kaapstad.

Wat alles saambind, is die ongelooflike biodiversiteit wat die wêreld ons bied – al daardie ander plekke wat ons so graag wil besoek. Soms is hierdie plekke nie oor die see nie, maar sommer net in ons agterplaas.